Omdat ek graag hierdie blog vir die kinders wil hou as ‘n tipe rekord van ons gesin se avonture en die gebeure om ons, is ek nogal gefrustreerd dat ek nie gereeld daarby uitkom nie. Tog, frustrasie gaan my niks help nie, en ek neem nou my dagboek en reflekteer sommer in elk geval oor van die dinge wat die afgelope jaar gebeur het. Dalk is die maklikste vertrekpunt sommer die afgelope naweek. Ek het Vrydag verlof gehad om op uitnoding van die Kathu kameraklub ‘n Photoshop kursus daar te gaan aanbied.
13 November: Kalaharie Naweek in Kathu.
Die kinders was al die week voor die tyd opgewonde oor die rukkie wat hulle uit die skool sou kon afslag kry, synde ons al 09:00 moes ry. Ons het dan ook besluit om sommer by Kimberley se gat te stop vir ‘n bietjie van ‘n geskiedenis les! Dit het nie so goed gewerk nie, synde ons die videovertoning (R180 vir die gesin) eerder van die hand gewys het. Ons kon darem deur van die uitstalhuisies stap (en het vir R60 vir die gesin na die gat gaan kyk – uiters teleurstellend, maar nou ja, ons was darem daar…). Benno het Ben 10 plakkers gekoop en Anienie Hannah Montana plakkers – geskiedenisles afgemerk! 
Daardie aand het ons begin met die Photoshop-opleiding en die volgende oggend by die stalle gaan foto’s neem. Die Saterdag was Arne en die kinders merendeels by die gastehuis, waar Anienie die swembad natuurlik baie geniet het! Die middag is ons na die gholf-estate en ek dink Anienie se opsomming was die beste toe sy na die bome en veld kyk — “Nou lyk die Kalahari soos dit klink, dit lyk nou soos Kalahari.” Saterdagaand het ons gebraai en daarna weer bietjie opleiding gedoen. Sondagoggend het ons by die natuurreservaat langs Kathu gaan foto’s neem – en na ontbyt die lang pad huis-toe aangedurf. Anienie het dit soveel geniet dat sy gereken het sy wil sommer voor kersfees weer Kalahari toe gaan, ten spyte van die lang pad. Hoewel Arné en die kinders nie saam was na die natuurreservaat toe Sondagoggend nie (ons het 4:30 reeds gery), het Benno, danksy Susan, ‘n gedeelte van ‘n kameelperdgeraamte gekry om saam te bring huis-toe. Dit in aansluiting by sy reuse klip-versameling, waar Susan ook die bydrae van ‘n koperklip gemaak het.
Ek dink Ouma Barbara was nogal bly om ons weer te sien. Elmarie het haar die naweek ge “Ouma-sit”. Teen Sondagaand was dit ook duidelik dat Arné en Benno besig was om weer griep te ontwikkel…Toggietog.
17 November 2009:
Het vanoggend vroeg vir Tim Smith van Learningcurve op die lughawe gaan haal. Hy het met genooide onderwysers kom praat oor Adobe se K12 skoleprojek. Johan Minnie en Johan Coetzer het ‘n aanbieding oor Customer-Centricity kom aanbied – baie interessant! Lyk asof Liberty al meer begin besef hoe belangrik die bestuur van kliënte-inligting is.
Vanaand het ek en Prof Hennie bietjie oor Photoshop gesels, daarna het ek ‘n kort aanbieding vir die ouers by Willem Postma se Bybelstudie gedoen oor Resilience, en toe nog vinnig by Annarette hulle se kerk oor die tema van “Jy as geskenk”. Tuisgekom was almal aan die slaap, behalwe Ouma Barbara, wat toe saam my kyk hoe die Springbokke verloor teen die Engelse klubspan, Saracens, (wat self belaai is met oud-Springbokke). Teen laatnag in die bed. Ek wonder nogal al meer oor die aard van “sport-ekonomie”. Hoe hard speel mens as jy vir geld speel vs hoe hard speel jy as jy uit lojaliteit speel…
Die week van 26 Junie tot 4 Julie: Gesinskamp, Natalia
Soos gewoonlik was daar ‘n oorstop op Bethlehem voor die gesinskamp. Marie en haar vriendin, Lara, het saamgegaan (van Bethlehem af het hulle saam met Elmarie gery), ons moes Elmarie se ma in Pietermaritzburg oplaai en het dit sommer kombineer met ‘n besoek aan die skoenlapper (jinne, wat sal mens dit noem — soos ‘n akwarium vir skoenlappers) – plek. Daar het ons geëet, skoenlappers afgeneem en die res van die pad aangedurf.
Tydens die gesinskamp was die sprekers Johann Smit en Johan Maree. Dawie hulle het ook oppad na Margate verbygekom (bloot toevallig dat ons met mekaar gepraat het) en saam met ons gaan ontbyt eet. Hulle het ook later weer kom kuier.
Na die gesinskamp het ons aangebly aangesien daar Bestuursopleiding was wat ek vir Liberty se management academy moes doen. Ek sou ook namens Liberty se opleidingsdepartement twee dae Praktykbou-opleiding vir ABSA gee, maar dit is gekanselleer – het toe maar sommer verlof ingesit, aangesien die besprekings reeds gemaak was.
Tydens die gesinskamp was ma op Bethlehem by Ouma Louisa. Ek het ook ‘n goeie hou jig gekry, terwyl die griep Arné gevang het in die tweede week. Anienie se verjaardag was natuurlik in die tweede week, en ja, eers het Dawie hulle kom kuier, toe het ons saam met die Spiese gaan eet by die koffiewinkel, en die Natalia maatjies het ‘n tonnel gevorm waardeur sy kon loop. Die partytjie het nie opgehou nie, want oppad terug het Lut ook nog in samewerking met Ouma Barbara ‘n reuse koek bestel, en Anienie se partytjie is by “Horses for Joy” verder gevoer…
Met die laaste funksie van die gesinskamp het die kinders kort voor die talentaand besluit om Romeo en Juliet op te voer. Ek en Arné het ons uit die reëlings gehou, maar Anienie het Wynand oortuig om hulle ‘n kans te gee! En daar doen hulle toe ook sommer ‘n baie kort Romeo en Juliet, met Anienie en Benno in die hoofrolle en Amore as die “nurse”. Ons kinders se dramaloopbane het begin (met ‘n twee minuut vignette!). Dieselfde aand het ons ‘n midweek by Natalia gewen met die Lucky Draw. (Ook geboek vir die einde van November en begin Desember, hoewel dit bietjie bots met die skole se sluit).