Dinsdag 22 Januarie

Wat ‘n prettige oggend.  Benno het ‘n padda in die visdam raakgeloop en het geweier om enigsins skool-toe te gaan, tensy die padda kon saam.  Die padda was bietjie groter as die gewone, en Ouma Barbara se hulp is ingeroep om Padda in ‘n tupperbak te sit!  (Ek en ouma Violet het net staan en gril, en Benno was self nie haastig om aan die padda te vat nie!)

Juffrou Amelia was effens geduldig, maar het nie kans gesien om die tupperbak in die klas oop te maak nie.  Nadat sy en ‘n paar kindertjies versigtig ingeloer het, is die paddavis saam met my teruggestuur huiswaarts! 

Arnè en Anienie het ‘n poppekas by hulle skool gehad, en Anienie reken dat sy dit baie geniet het. 

Vanaand het ons almal saam met Benno se Spiderman-baseball stel gespeel, nadat Benno heel kreatief ‘n paar ander speletjies voorgestel het.  Hy en Anienie geniet die trampolien al meer, en Benno dink al meer truuks uit!

Na die naweek in Bethlehem hoor ons weer die wysheid van die nefies en niggies in die eggo van ons eie kinders.  Benno reken dat oranje paddas giftig is.  Ek vra of Arnè dit vir hom in die National Geographic gelees het.  “Nee,” reken hy, “Ha-Toehie” sê so.  Ai, dat my kinders hulle wysheid van Ha-Toehie moet kry

Leave a Reply