28 Februarie – Lanklaas geskryf

February 28, 2008

Jinne.  Die tyd vlieg so vinnig.  Het nou eers weer kans om te skryf.  Ek het laaskeer die foto van Benno opgesit voor hy in is vir sy operasie.  Hier is die foto toe hy uit die teater uitgekom het.  Hy het dapper probeer om “soet te wees”.  Maar het die middag lank nog “afferig” gevoel.

image_158.jpg

Anienie geniet die skool by haar ma-juffrou nog baie.  Sy lees al mooi en wonder elke aand waarom die dae so vinnig verbygaan.  Vroeer die week het ons almal by die dokter geland en na ‘n lang aand waartydens ek met middeloorontsteking diagnoseer is en die kinders met grieperige-verkoueneuse ens. het ons gou eers by die Mall iets gaan drink.  Anienie sien nou al lank uit na een van die roomyse wat vonkies maak.  Wel, soos die volgende foto wys, sy het dit toe gekry.

image_163.jpg

Nou ja, dit is vir eers die nuus.  More verjaar Arne – op Skrikkeldag. 


Laataand 20 Februarie

February 20, 2008

Benno se tande is gedoen. Ek werk nog, en hy het netnou aan die huil gegaan, nadat hy ‘n vreeslike dapper dag agter die rug het.  Met 4 tande uitgesny en drie gestop het hy woes moes voel.  Om toe nog by Anienie te hoor dat daardie tande dalk te sleg lyk vir die tandmuis!  Mens waarsku hulle mos om tande te borsel, en dan sê mens mos maklik – as die tande nie mooi is nie, kom die Tandmuis dit nie haal nie!

Gelukkig het die Tandmuis vir hulle elkeen ‘n geskenkie gebring!  Vir Benno ‘n dinosourus en vir Anienie ‘n Carebares dvd.  Arne is poegaai na die dag.  Sy was baie gespanne oor die operasie en die narkose, ook ma Barbara lyk sommer verlig.

Nadat ons Benno huis-toe gebring het, het ek vir die res van die dag ELM opleiding gegee.  Die laaste paar dae was woes – vanaf die Valentynsontbyt Donderdag, Bethlehem toe Vrydag vir die fotosafari, terug Sondag – Zebra Lodge toe Maandag en terug gister – toe die tande en opleiding vandag!  Dit woel en werskaf!

En daarom gaan ek nou salig rus!


20 Feb Benno is in vir sy tande – hier is hy oppad saal toe!

February 20, 2008

image_155.jpg

Benno se tande word getrek.  Ek en Arne blog gou uit die coffeeshop.  Die foto was voor hy in is…ek dink nie hy gaan nounou so jolig wees nie.


18 Februarie

February 18, 2008

Ek skryf vanaand vanaf Zebra Lodge.  Het vandag hierheen gery, omtrent 500 kilometer.  Die naweek in Bethlehem was lekker, ons het fotosafarie gehou, en Sondag het ek verjaar.  Arne en die gesin, sowel as Lut-hulle het uit hulle pad gegaan om dit lekker te maak, en ek waardeer dit!  Lut-hulle se huis was weer oop vir ons almal, en ons en die Van Leeuwens het daar tuisgegaan. 

Sondag is ons na Sunnyside Guest Farm naby Golden Gate.  Ek het nog nie die foto’s wat ons daar geneem het afgelaai nie, maar sal dit ook hier plaas.  Op die fotosafari het van die mense ongelooflike mooi foto’s  geneem, en omdat Mohammed Jogie van Adobe dit moet beoordeel, sal ek dit nog plaas en die hyperlink ook hier sit.

Ek moet sê ek sal waardeer as dinge bietjie stadiger kan gaan vir ‘n rukkie.  Vrydag was dit die 250km tot op Bethlehem, Sondag terug, vandag weer 500 en more is dit weer die hele pad terug.  Het vandag na die Gary Kieswetter preke in die motor geluister.  Heel interessant en laat ook die tyd vinnig verbygaan.  More moet ek vir ABSA ‘n aanbieding oor Courageous Execution doen.  Terwyl ek vandag hierheen gery het, het ek weer besef hoekom ek Johannesburg en Pretoria se verkeer so haat.  Dis gekke jaagduiwels en ja, seker maar iets met engtevrees te doen, maar as ek so tussen die motors sit word ek skoon verbouereerd.  Toe ek hier kom gesels ek met ‘n paar van die bestuurders.  Donovan se huis is Vrydagaand leeg gesteel.  Andre se huis is ‘n ruk gelede besteel terwyl hulle geslaap het – sy kind moes berading kry omdat sy bang was.  Iemand vertel van ‘n vierjarige dogtertjie by wie ingebreek is wat vir haar Ouma gevra het om asseblief haar handjie mooi vas te hou – “sodat die skelms my nie kan kom steel nie, Ouma.”  Toe ek vir hulle vra wat ons veronderstel is om te doen, bly almal my ‘n antwoord skuldig.  En ek wonder, wat is mens veronderstel om te doen.  Aan die een kant praat sommige predikante teen emigrasie, en aan die ander kant word mense roekeloos vermoor en van hulle kindwees beroof. 

Dit klink of ek morbied is, maar hoe lank kan dinge so aanhou?

Nou ja, vanaand verlang ek na die kinders en Arnè.  Ek is lief vir hulle en mens wil net die beste vir hulle hê.  En die vraag wat ek myself afvra is:  “Wat is die beste?”


14 Februarie Valentynsdag

February 14, 2008

Ek en Arnè het vanaand in die mall gaan kuier en uiteet. Die kinders was vanjaar so opgewonde oor Valentynsdag! Benno wil weet hoekom ek moet gaan werk. “Dis dan Valentynsdag!”

Van Benno gepraat, hy het ‘n passie om nuwe speletjies uit te dink. Gister het hy een van sy kouse vol sand gestop en gemaak asof dit ‘n slingervel is… Kyk net hier…

slingervel.jpg

Terwyl Benno elke dag nuwe speletjies uitdink, dans-speel Anienie heerlik op die gras. Ek het haar darem gekry om vir ‘n oomblik stil te staan!

anienie.jpg

Nou ja.  Vir eers is dit bed-toe.  More gaan ons Bethlehem toe vir die fotosafari.  Ek glo die weer gaan lekker wees en ons gaan ongelooflike foto’s kry.  Terwyl ek na die fototjies van die twee kyk waardeer ek hulle “dans met die lewe”.  Voorwaar, mens se kinders is jou grootste vreugde.  Dan kyk ek na gister se inskrywing en  die artikel in die koerant en my hart gaan uit na daardie familie.


Agge nee – wat maak mens? 13 Februarie

February 13, 2008

Wat maak mens as jou dogtertjie in die aand bid dat daar nie skelms in die huis moet inkom nie, en dat mens tot die volgende dag moet lewe?

En dan kom mens voor ‘n koerant waar die hooffoto ‘n twaalfjarige dogtertjie se lyk is – geskiet deur rowers – ‘n Dogtertjie wat in haar skooljoernaal geskryf het haar groot vrees is rowers?

img_0430.jpg

My hart breek oor ‘n kind wat net wou leef, maar deur die sinnelose misdaad geen kans gegun is nie! Dalk het sy ook net uitgesien na Valentynsdag, na ‘n rooi blom, en nou?  Net ‘n graf vir ‘n kind.  Nog ‘n kind wat boet, soos vele ander, vir iets wat ons nie verstaan nie.  Ek huil.

Ek kan nie verstaan nie.  Waarom?  Dis dieselfde as toe David Rattray dood is.  ‘n Bate vir die land is deur ‘n las vir die land doodgemaak.  Sinneloos.  En emigrasiesyfers neem toe.  Wat maak mens?


10 Februarie

February 10, 2008

Ons het ‘n rustige Sondag tuis.  Buite reën dit vir die eerste keer in maande (so voel dit in elk geval).  Ek het gou die tyd gebruik om webwerwe op te dateer.  Onthou gerus om te gaan kuier by http://www.oumabarbara.blogspot.com .

En so van Ouma Barbara gepraat – hier is ‘n foto wat ek gister geneem het – in haar gunstelingposisie!

22_20080209_generaljanfeb_ivn.jpg

Nou ja, volgende naweek het ons die fotosafari, more moet ek twee kursusse ontwerp.  Die een oor Kreatiewe Praktykbou en die ander oor die bestuur van, asook die eienskappe van die nuwe generasie – die sogenaamde millenials!


9 Feb – Fleischmans en huis

February 10, 2008

Die naweek het rustig begin.  Vrydagaand het ons by oom Willem gaan swem.  Saterdagoggend moes ek die Fleischman gesin afneem.  Ek is nogal heel gelukkig met die foto’s.  Hulle versoek was foto’s wat energie en interaksie weergee…

Klik gerus om die groter weergawes te sien…

Fleischman familie

Hier is nog ene…

fleischman2

Die res van Saterdag was ons gou boeremarkie toe.  Daarna huiswaarts.  Laat Saterdagmiddag het Benno my gevra om saam met hom die “land before time” paadjie onder die huis te gaan stap.  Net toe ons amper tuis is, het ‘n perdeby hom aangeval.  Sy hart was seer.  Hy het reeds vroeër die dag seergekry by die Fleischmans, en sy opinie was “hierdie is nie ‘n lekker dag nie”.  Hy het hartseer voor die tv gesit en toe aan die slaap geraak.  Sy gedane lyfie het plat op die bank gelê, en ek kon nie anders as om hom af te neem nie….

Hier is die foto…

 Benno slaap

En terwyl ek die foto van Benno byvoeg, het ek sommer ook weer vir Anienie afgeneem.  Elke laatmiddag spandeer sy dansend en spelend in haar eie wêreld buite die huis…

Anienie

Benno is ook besonder kreatief – hy het ‘n nuwe manier van skaakspeel uitgedink.  Al die stukke word met sy speelgoed dinosourusse vervang, en Arnè moet lekker bontstaan om te onthou wat is wat, maar, getrou aan Benno se aard, bly T-rex die koning!

20_20080208_generaljanfeb_ivn.jpg


Die eerste naweek van Februarie – Die Gropps en die kerk

February 10, 2008

Vrydagaand was die eerste sessie wat Gary Kieswetter by die kerk aangebied het.  Hy het verskeie oulike verhale uit die Bybel geneem en sy storievertel-kuns is besonders.  So het hy vertel van Dawid, en ek som sommer vinnig op -

Dawid is gevra om vir Saul harp te kom speel, maar raai waar hulle hom die eerste keer sien speel het?  Ja, vir die skape!  Maar selfs vir die skape het hy sy beste gegee en daarom is hy raakgesien.  Ons moet onthou om altyd ons beste te gee, want mens weet nooit wanneer mens raakgesien word nie.  Dit herinner sterk aan een van Zig Ziglar se stories waar genoem is dat een seuntjie baie hard en entoesiasties gewerk het, en dus altyd verseker sou wees van ‘n werk.

Dan het Kieswetter vertel van Dawid wat in die veld aanhou oefen het met sy slingervel – tot so ‘n mate dat hy later ‘n haar kon raakgooi.  Hy het nie sy tyd by die skape sit en mors deur niks te doen nie.  Hy het sy talent aanhou ontwikkel.  Hy eindig die storie van die stryd tussen Dawid en Goliat kostelik deur te vertel dat die Suidooster Goliat se help effens skeef gewaai het, een haar het uitgesteek, en wa-la, Dawid het ‘n teiken gehad.

Dawid het geweet waar sy krag en beskerming vandaan kom, en homself aanhou voorberei vir groot geleenthede!  Iets wat ons almal maar meer kan doen.

Vrydagaand was die Gropps so half-nege by ons, en het ons Petoors gou gaan oplaai by die mall.  Ha-Toehie was dadelik na die skaak op die rekenaar en Marie is deur Benno en Anienie oorgeneem.

Saterdagoggend was ek, Ha-toe-hie, Theo en Petoors gou na die manne-oggend by die kerk. Die keer het Gary gepraat oor Eli en die feit dat God vir ons elkeen ‘n eie roeping gee.  Ons kan nie ander mense se roepinge uitleef nie.  Die vrouens was Greenside toe vir ontbyt.  

Saterdag het verbygevlieg en ons het die aand weer gaan luister na Gary, hierdie keer was dit saam met Peter Coffee, wie se sg Friends toe nie opgedaag het nie.  Hierdie keer was die preek oor potensiaal.  Die prostituut wat die verspieders gehelp het, en meer was as bloot ‘n prostituut, maar ‘n instrument in die hand van die Here.

Sondag se diens was oor Isak en Rebekka en die feit dat mens moet weet waarna jy soek, en dit wat jy doen voluit moet doen.

Die naweek het verbygeflits met die kinders wat skaak gespeel, trampolien gespring en lekker gekuier het.  Sondag is die Gropps toe fort. Lutje weer oppad om eers gou by die mall ‘n draai te maak…Theo wat protesteer, wetende hy kan nie wen nie, en ja, nog ‘n vol naweek was op ‘n einde.


7 Februarie – Hendrik, Prof en Harry Kalmer

February 10, 2008

Een ding wat ek altyd van my lewe geniet is die verskeidenheid dinge waaraan ek bevoorreg is om blootgestel te word.  Vanoggend moes ek by ABSA se streekskonferensie (gereël deur Hendrik Crafford) ‘n aanbieding doen oor Courageous Leadership. Het toe maar weer die 8th Habit aanbieding aangepas, en weer self besef dat mens net een kans het om mens se roeping en passie uit te leef – die lewe is kort!

Daarna was dit gou na die geskiedenisdepartement om te praat oor die moontlikheid van ‘n PHD.  Dis uiters moeilik want ek wil graag werk oor Leierskap en geskiedenis.  Die gesprek was eers maar ‘n brainstorm sessie.  Ons sal sien ewat daaruit voortvloei.  Wat wel interessant was, was dr Jan-Ad Stemmet se verwysing na die feit dat soveel Suid-Afrikaanse leiers onder ‘n wolg weg is!  Dink maar aan Vorster, Botha, selfs Smuts.  Om van Verwoerd nie eens te praat nie.  Dan het hy ook nog verwys na die feit dat soveel diktators soveel dinge in gemeen het ten opsigte van hulle verledes. Dit laat mens weer dink aan die hele konsep van Snakes in Suits in die besigheidswêreld.  Dit bly interessant hoe hierdie dinge inmekaarvleg.

Die aand het ons na Harry Kalmer gaan luister wat gepraat het oor sy boek, Die lekkerste deel van dood wees, klink interessant, en Kalmer lyk een van die kreatiewe skrywers van ons tyd te wees.  Het daar met Jonathan Crowther van die Volksblad ‘n interessante gesprek gehad oor die toekoms van Suid-Afrika.  Uiteindelik het hy ook nie veel oplossings of voorstelle nie – wat wel ‘n feit is, is dat ons geen leiers op die horison het nie.  En ja, leierskap is nou broodnodig om Suid-Afrika van die Afrika euwel van ondergang te red.

Toe ons tuis kom was Benno uitgepass op die bank.  Anienie en ouma was nog besig om die incredibles te kyk.  ‘n Lekker lang, stimulerende dag.