10 Februarie

February 10, 2008

Ons het ‘n rustige Sondag tuis.  Buite reën dit vir die eerste keer in maande (so voel dit in elk geval).  Ek het gou die tyd gebruik om webwerwe op te dateer.  Onthou gerus om te gaan kuier by http://www.oumabarbara.blogspot.com .

En so van Ouma Barbara gepraat – hier is ‘n foto wat ek gister geneem het – in haar gunstelingposisie!

22_20080209_generaljanfeb_ivn.jpg

Nou ja, volgende naweek het ons die fotosafari, more moet ek twee kursusse ontwerp.  Die een oor Kreatiewe Praktykbou en die ander oor die bestuur van, asook die eienskappe van die nuwe generasie – die sogenaamde millenials!


9 Feb – Fleischmans en huis

February 10, 2008

Die naweek het rustig begin.  Vrydagaand het ons by oom Willem gaan swem.  Saterdagoggend moes ek die Fleischman gesin afneem.  Ek is nogal heel gelukkig met die foto’s.  Hulle versoek was foto’s wat energie en interaksie weergee…

Klik gerus om die groter weergawes te sien…

Fleischman familie

Hier is nog ene…

fleischman2

Die res van Saterdag was ons gou boeremarkie toe.  Daarna huiswaarts.  Laat Saterdagmiddag het Benno my gevra om saam met hom die “land before time” paadjie onder die huis te gaan stap.  Net toe ons amper tuis is, het ‘n perdeby hom aangeval.  Sy hart was seer.  Hy het reeds vroeër die dag seergekry by die Fleischmans, en sy opinie was “hierdie is nie ‘n lekker dag nie”.  Hy het hartseer voor die tv gesit en toe aan die slaap geraak.  Sy gedane lyfie het plat op die bank gelê, en ek kon nie anders as om hom af te neem nie….

Hier is die foto…

 Benno slaap

En terwyl ek die foto van Benno byvoeg, het ek sommer ook weer vir Anienie afgeneem.  Elke laatmiddag spandeer sy dansend en spelend in haar eie wêreld buite die huis…

Anienie

Benno is ook besonder kreatief – hy het ‘n nuwe manier van skaakspeel uitgedink.  Al die stukke word met sy speelgoed dinosourusse vervang, en Arnè moet lekker bontstaan om te onthou wat is wat, maar, getrou aan Benno se aard, bly T-rex die koning!

20_20080208_generaljanfeb_ivn.jpg


Die eerste naweek van Februarie – Die Gropps en die kerk

February 10, 2008

Vrydagaand was die eerste sessie wat Gary Kieswetter by die kerk aangebied het.  Hy het verskeie oulike verhale uit die Bybel geneem en sy storievertel-kuns is besonders.  So het hy vertel van Dawid, en ek som sommer vinnig op -

Dawid is gevra om vir Saul harp te kom speel, maar raai waar hulle hom die eerste keer sien speel het?  Ja, vir die skape!  Maar selfs vir die skape het hy sy beste gegee en daarom is hy raakgesien.  Ons moet onthou om altyd ons beste te gee, want mens weet nooit wanneer mens raakgesien word nie.  Dit herinner sterk aan een van Zig Ziglar se stories waar genoem is dat een seuntjie baie hard en entoesiasties gewerk het, en dus altyd verseker sou wees van ‘n werk.

Dan het Kieswetter vertel van Dawid wat in die veld aanhou oefen het met sy slingervel – tot so ‘n mate dat hy later ‘n haar kon raakgooi.  Hy het nie sy tyd by die skape sit en mors deur niks te doen nie.  Hy het sy talent aanhou ontwikkel.  Hy eindig die storie van die stryd tussen Dawid en Goliat kostelik deur te vertel dat die Suidooster Goliat se help effens skeef gewaai het, een haar het uitgesteek, en wa-la, Dawid het ‘n teiken gehad.

Dawid het geweet waar sy krag en beskerming vandaan kom, en homself aanhou voorberei vir groot geleenthede!  Iets wat ons almal maar meer kan doen.

Vrydagaand was die Gropps so half-nege by ons, en het ons Petoors gou gaan oplaai by die mall.  Ha-Toehie was dadelik na die skaak op die rekenaar en Marie is deur Benno en Anienie oorgeneem.

Saterdagoggend was ek, Ha-toe-hie, Theo en Petoors gou na die manne-oggend by die kerk. Die keer het Gary gepraat oor Eli en die feit dat God vir ons elkeen ‘n eie roeping gee.  Ons kan nie ander mense se roepinge uitleef nie.  Die vrouens was Greenside toe vir ontbyt.  

Saterdag het verbygevlieg en ons het die aand weer gaan luister na Gary, hierdie keer was dit saam met Peter Coffee, wie se sg Friends toe nie opgedaag het nie.  Hierdie keer was die preek oor potensiaal.  Die prostituut wat die verspieders gehelp het, en meer was as bloot ‘n prostituut, maar ‘n instrument in die hand van die Here.

Sondag se diens was oor Isak en Rebekka en die feit dat mens moet weet waarna jy soek, en dit wat jy doen voluit moet doen.

Die naweek het verbygeflits met die kinders wat skaak gespeel, trampolien gespring en lekker gekuier het.  Sondag is die Gropps toe fort. Lutje weer oppad om eers gou by die mall ‘n draai te maak…Theo wat protesteer, wetende hy kan nie wen nie, en ja, nog ‘n vol naweek was op ‘n einde.


7 Februarie – Hendrik, Prof en Harry Kalmer

February 10, 2008

Een ding wat ek altyd van my lewe geniet is die verskeidenheid dinge waaraan ek bevoorreg is om blootgestel te word.  Vanoggend moes ek by ABSA se streekskonferensie (gereël deur Hendrik Crafford) ‘n aanbieding doen oor Courageous Leadership. Het toe maar weer die 8th Habit aanbieding aangepas, en weer self besef dat mens net een kans het om mens se roeping en passie uit te leef – die lewe is kort!

Daarna was dit gou na die geskiedenisdepartement om te praat oor die moontlikheid van ‘n PHD.  Dis uiters moeilik want ek wil graag werk oor Leierskap en geskiedenis.  Die gesprek was eers maar ‘n brainstorm sessie.  Ons sal sien ewat daaruit voortvloei.  Wat wel interessant was, was dr Jan-Ad Stemmet se verwysing na die feit dat soveel Suid-Afrikaanse leiers onder ‘n wolg weg is!  Dink maar aan Vorster, Botha, selfs Smuts.  Om van Verwoerd nie eens te praat nie.  Dan het hy ook nog verwys na die feit dat soveel diktators soveel dinge in gemeen het ten opsigte van hulle verledes. Dit laat mens weer dink aan die hele konsep van Snakes in Suits in die besigheidswêreld.  Dit bly interessant hoe hierdie dinge inmekaarvleg.

Die aand het ons na Harry Kalmer gaan luister wat gepraat het oor sy boek, Die lekkerste deel van dood wees, klink interessant, en Kalmer lyk een van die kreatiewe skrywers van ons tyd te wees.  Het daar met Jonathan Crowther van die Volksblad ‘n interessante gesprek gehad oor die toekoms van Suid-Afrika.  Uiteindelik het hy ook nie veel oplossings of voorstelle nie – wat wel ‘n feit is, is dat ons geen leiers op die horison het nie.  En ja, leierskap is nou broodnodig om Suid-Afrika van die Afrika euwel van ondergang te red.

Toe ons tuis kom was Benno uitgepass op die bank.  Anienie en ouma was nog besig om die incredibles te kyk.  ‘n Lekker lang, stimulerende dag.


5-6 Februarie

February 10, 2008

Hierdie was weer twee dae in Johannesburg. Dinsdag het ek lank met Jay gesels oor my rol in die Leierspan by Liberty.  Vir eers sal ek nou verantwoordelik wees vir die ontwikkeling van die mense in Learning sowel as die senior bestuurders.  Dinsdagaand het ons gaan afskeid neem van Pierre Jordaan.  Na omtrent 12 jaar gaan Pierre nou na SBFC as bestuurder.  Woensdag het ek die Update to the Industry Centra sessie van Johannesburg af gedoen.  En daarna weer die salige pad huis-toe aangedurf.  Ek moet darem sê ek het die voorreg gehad dat die hotelkamer opgradeer is na ‘n Executive suite omdat dit te vol was (lyk my daar was baie dubbel kamers geboek).  Het net te laat in die aand ingekom om dit werklik te waardeer.