18 Februarie

February 18, 2008

Ek skryf vanaand vanaf Zebra Lodge.  Het vandag hierheen gery, omtrent 500 kilometer.  Die naweek in Bethlehem was lekker, ons het fotosafarie gehou, en Sondag het ek verjaar.  Arne en die gesin, sowel as Lut-hulle het uit hulle pad gegaan om dit lekker te maak, en ek waardeer dit!  Lut-hulle se huis was weer oop vir ons almal, en ons en die Van Leeuwens het daar tuisgegaan. 

Sondag is ons na Sunnyside Guest Farm naby Golden Gate.  Ek het nog nie die foto’s wat ons daar geneem het afgelaai nie, maar sal dit ook hier plaas.  Op die fotosafari het van die mense ongelooflike mooi foto’s  geneem, en omdat Mohammed Jogie van Adobe dit moet beoordeel, sal ek dit nog plaas en die hyperlink ook hier sit.

Ek moet sê ek sal waardeer as dinge bietjie stadiger kan gaan vir ‘n rukkie.  Vrydag was dit die 250km tot op Bethlehem, Sondag terug, vandag weer 500 en more is dit weer die hele pad terug.  Het vandag na die Gary Kieswetter preke in die motor geluister.  Heel interessant en laat ook die tyd vinnig verbygaan.  More moet ek vir ABSA ‘n aanbieding oor Courageous Execution doen.  Terwyl ek vandag hierheen gery het, het ek weer besef hoekom ek Johannesburg en Pretoria se verkeer so haat.  Dis gekke jaagduiwels en ja, seker maar iets met engtevrees te doen, maar as ek so tussen die motors sit word ek skoon verbouereerd.  Toe ek hier kom gesels ek met ‘n paar van die bestuurders.  Donovan se huis is Vrydagaand leeg gesteel.  Andre se huis is ‘n ruk gelede besteel terwyl hulle geslaap het – sy kind moes berading kry omdat sy bang was.  Iemand vertel van ‘n vierjarige dogtertjie by wie ingebreek is wat vir haar Ouma gevra het om asseblief haar handjie mooi vas te hou – “sodat die skelms my nie kan kom steel nie, Ouma.”  Toe ek vir hulle vra wat ons veronderstel is om te doen, bly almal my ‘n antwoord skuldig.  En ek wonder, wat is mens veronderstel om te doen.  Aan die een kant praat sommige predikante teen emigrasie, en aan die ander kant word mense roekeloos vermoor en van hulle kindwees beroof. 

Dit klink of ek morbied is, maar hoe lank kan dinge so aanhou?

Nou ja, vanaand verlang ek na die kinders en Arnè.  Ek is lief vir hulle en mens wil net die beste vir hulle hê.  En die vraag wat ek myself afvra is:  “Wat is die beste?”