Sommer ‘n kort storie oor kindwees -

July 27, 2008

Net om darem in kontak te bly!  Ek steel gou hierdie sandsteenstorie by myself om te deel!  Dit was onlangs toe ons op die plaas gekuier het saam met die Van Leeuwens -

Krappe so groot soos koeie!

Die onverwagse vakansie was welkom.  Ons kon weer ‘n langnaweek op die plaas inruim.  Ek was opgewonde oor die geleentheid om weer foto’s te neem.  Herfsbome in die Oos Vrystaat.  Kameras was in, en die kinders was opgewonde om weer te gaan kuier.

Met die eerste verkenningstog het ek besef ek was te laat.  Die geel herfsbome was reeds winter danksy ‘n koue naweek vroeër in die maand.  Die laaste geel blare het verdwaald in ‘n laatmiddag koue tussen wintermotreën-wolke gehang – gesliert en gesloop van helderheid.  Dit was sommer yskoud.  Gelukkig kry kinders mos nie koud nie.  Toe Saterdagoggend se grys yskombers weer kom hang stap ek met die kinders rivier toe.  En die wêreld gaan oop voor die kinders.  Dis Benno wat eerste die krapknypers raaksien.  Met ywer begin hy versamel.  Die dogtertjies ook.  Water spat om hulle nat tekkies en hulle broeke is nat tot net onder die knieë.  In hulle wêreld is daar op die oomblik geen koue nie.  Net verbeelding, water wat plas, en krappe.

Benno kondig luidkeels aan dat hy ‘n krap gesien het.  Die ander storm nader.  Toe hy begin om te vertel dat die krap so groot soos ‘n bees was, besef ek dat hy besig is om met vreeslike gare ‘n reuse woordtolletjie te spin.  Maar die ander geniet dit.  Tussendeur begin ons aanstaltes maak om huis-toe te gaan.  Maar die kinders wil bly.  Vasgevang in hierdie oomblik van ewigheid.  En vir die oomblik dink ek oor wat ons in die stad sou doen.  Waarskynlik in die vervelende koue iewers na ‘n mall toe gegaan het.  Iets gekoop het om die kinders mee besig te hou.  Defnitief nie krapknypers nie.  Mens kry dit nie in speelgoedwinkels nie.  Ook nie die wind in jou hare en die reuk van rooigras nie.  Mens se kinders kan nie met nat skoene en kouse slof nie.  Jy sal vreemd aangekyk word.  En tog, hier, in hierdie oomblik weet ek dat mens nooit die werklike daarwees van die natuur kan koop nie.  Dis ‘n kersgeskenk wat elke dag wag om geneem te word.  En tog, soos mens ouer word vergeet mens soms, soms verloor mens die kleurvolheid – soos die herfsbome wat van die heldergeel gestroop word deur die gang van die seisoene.

Terwyl ons huis-toe stap voel ek die gras weer teen my bene, ek ruik die modderige reuk van die spruit en hoor die wind wat die wilgerblare laat woesj sê.  By die huis het Arné warm koffie gemaak.  Die kinders hardloop na haar met die krapknypers.  En ek voel weer soos ‘n kind toe ek met die warm, stomende koffie in my hand sit en vir Arné vertel van die krap wat ek gesien het.

“So groot soos ‘n bees…”


Die skoolvakansie staan einde se kant toe

July 13, 2008

So laaste Sondag!  En die vakansie is verby.  More is dit vroegopstaan vir almal!  As ek terugdink was dit ‘n lekker vakansie, en ek hoop die kinders en Arne sien dit ook so!   Ons het weggetrek met die gesinskamp by die see – daarna die plaas, toe Petoors se besoek, Anien se verjaardag, Gold Reef City, en uiteindelik terug tot by vandag.  Gedurende die vakansie het Anienie by Amore gaan slaap, Hendru Barnes by Benno kom slaap en, in die algemeen het Benno en Anienie ook lekker gespeel.  Veral rekenaar!

Hulle het onder andere ‘n Kimpossible dressup game op die internet ontdek.  En dit was te pragtig toe ek een aand afkom op ‘n google soektog wat Anienie gedoen het:  ”Benno+van+Niekerk+dressap+gyme”  - Wonderlik hoe lateraal daar al gedink word!  Ek loop toe ook nog hierdie foto’tjie van ‘n paar jaar gelede raak!  Die Boetie en Sussie wat so lief is vir mekaar!

Ek hoop hulle kan altyd sulke lekker maatjies bly! Ek onthou nog toe hulle saam in die kleuterskool was het juffrou Sonja vertel dat hoewel hulle ander maatjies gehad het, hulle altyd die graagste met mekaar gespeel het!  So op die einde van die vakansie is die lekkerste lekker om te weet ons kinders is nie net boetie en sussie nie, maar ook beste maatjies wat omgee vir mekaar! Pappa en mamma is trots op julle!


Saterdagaand – Almal tot rus

July 12, 2008

Dis Saterdagaand – 23:10! Het vandag gou aanbieding oor “The future” gedoen.  Nou ja, ek gaan nie veel se nie… Voel soos Benno op hierdie foto’s uit die argiewe… Op die tweede ene was hy nog besig op die rekenaar toe Klaasvakie kom.  (By Lut hulle se huis)

 

 

 

 

 

 

 

 


By Goldreef City

July 7, 2008

Nou ja, dit lyk nie of ons tot stilstand kom nie.  Saterdag was Anienie se partytjie, en vandag is ons by Gold Reef City.  Ek moet kom aanbied, en betaal sommer die verskil in by die hotel, dan kan die hele gesin hier bly…Arne het die kinders afgeneem toe ons hier aankom.  Hulle kon nie wag vir die “funky” karretjie nie!

Wel, more bied ek vir die eerste keer die Negotiations skills kursus aan.  Ek hoop maar dit sal goed gaan.  Die trip hierheen het goed verloop, met Anienie wat al meer vasberade raak om diere wat uitsterf te red!  Juis daarom kan sy ook nie wag om more die 4D fliek oor Pandavision weer te sien nie!!

En ja, Benno was lekker ongeduldig om die hele Gold Reef City weer te sien.  Min tyd vir pappa en sy kamera:

Wel, nou gou bietjie voorberei!


Anienie se partytjie

July 6, 2008

Ek sal nog die foto’s moet aflaai, maar Anienie het gister al haar partytjie gehou.  Daar was groot opgewondenheid vooraf.  Arne het materiaal gekoop en elke kind wat gekom het kon hulle eie ysbeer maak.  Van vroeg  af was Anienie en Benno al baie opgewonde met Arne op haar senuwees, maar dit het baie lekker gewerk.  Die dreigende koue front het ook darem eers na die partytjie sy opwagting gemaak.

Ek het gou vanaand weer www.pixelpostcards.com opdateer. O ja, ons was Vrydagaand by Xposure se tiende verjaardag (PASSI se tweede) en Petoors en Ouma Violet het ge-babysit.  Gisteraand het ons by die Van Leeuwens The Family Stone gaan kyk.  

Benno lyk baie beter, het net een vloermoer gegooi tydens Anienie se partytjie, maar verder darem sy naweek geniet.  As alles reg uitwerk gaan die gesin more saam met my tot by Gold Reef City, daar gaan hulle dan die dae deurbring terwyl ek die Negotiating Skills kursus gaan aanbied.

Vandag was baie koud en ons het by Toledo’s middagete gaan eet.  Nou ja, more is ons op die pad, maar ek hoop om sommer voor die tyd ‘n paar foto’s hier op te laai! (Van die partytjie).  Petoors is vandag met die bus terug Bethlehem toe.  Lyk my darem sy operasie was ‘n sukses.

Nou ja, terwyl my hele familie salig om my doedoe, sluit ek ook maar eers af!


Julie het begin

July 1, 2008

Dis seker beter om te se dat Julie begin het, as om te erken dat Junie verby is.  Arne is hard besig om voor te berei vir Anienie se partytjie Saterdag.  Ek is terug in die tuig.  En ja, die jaar is verby die halfpadmerk.  Ek het vinnig al my blogs opdateer.  Dis nou http://www.pixelpostcards.com, asook  ’n nuwe ene, postcards to leaders.  Dan is ek ook besig met presentation en selling skills blogs vir die kursus wat ek by die werk moet aanbied.

Benno is beter maar baie emosioneel.  Hy is die vrolikste kind, met die lekkerste sin vir humor, maar soms is hy olik met ‘n lekker humeur!  

O ja, het Sondagaand weer vir Anea op die bus gaan laai en more kom Petoors.  Vandag het Inge en Henru Barnes by die kinders gespeel – so daar is darem redelik sosiale aktiwiteite ook!  Nou ja, vir nou gaan ek eers bietjie rus!