So laaste Sondag! En die vakansie is verby. More is dit vroegopstaan vir almal! As ek terugdink was dit ‘n lekker vakansie, en ek hoop die kinders en Arne sien dit ook so! Ons het weggetrek met die gesinskamp by die see – daarna die plaas, toe Petoors se besoek, Anien se verjaardag, Gold Reef City, en uiteindelik terug tot by vandag. Gedurende die vakansie het Anienie by Amore gaan slaap, Hendru Barnes by Benno kom slaap en, in die algemeen het Benno en Anienie ook lekker gespeel. Veral rekenaar!
Hulle het onder andere ‘n Kimpossible dressup game op die internet ontdek. En dit was te pragtig toe ek een aand afkom op ‘n google soektog wat Anienie gedoen het: ”Benno+van+Niekerk+dressap+gyme” - Wonderlik hoe lateraal daar al gedink word! Ek loop toe ook nog hierdie foto’tjie van ‘n paar jaar gelede raak! Die Boetie en Sussie wat so lief is vir mekaar!
Ek hoop hulle kan altyd sulke lekker maatjies bly! Ek onthou nog toe hulle saam in die kleuterskool was het juffrou Sonja vertel dat hoewel hulle ander maatjies gehad het, hulle altyd die graagste met mekaar gespeel het! So op die einde van die vakansie is die lekkerste lekker om te weet ons kinders is nie net boetie en sussie nie, maar ook beste maatjies wat omgee vir mekaar! Pappa en mamma is trots op julle!

Posted by Pixelstories 

