Net om darem in kontak te bly! Ek steel gou hierdie sandsteenstorie by myself om te deel! Dit was onlangs toe ons op die plaas gekuier het saam met die Van Leeuwens -
Krappe so groot soos koeie!
Die onverwagse vakansie was welkom. Ons kon weer ‘n langnaweek op die plaas inruim. Ek was opgewonde oor die geleentheid om weer foto’s te neem. Herfsbome in die Oos Vrystaat. Kameras was in, en die kinders was opgewonde om weer te gaan kuier.
Met die eerste verkenningstog het ek besef ek was te laat. Die geel herfsbome was reeds winter danksy ‘n koue naweek vroeër in die maand. Die laaste geel blare het verdwaald in ‘n laatmiddag koue tussen wintermotreën-wolke gehang – gesliert en gesloop van helderheid. Dit was sommer yskoud. Gelukkig kry kinders mos nie koud nie. Toe Saterdagoggend se grys yskombers weer kom hang stap ek met die kinders rivier toe. En die wêreld gaan oop voor die kinders. Dis Benno wat eerste die krapknypers raaksien. Met ywer begin hy versamel. Die dogtertjies ook. Water spat om hulle nat tekkies en hulle broeke is nat tot net onder die knieë. In hulle wêreld is daar op die oomblik geen koue nie. Net verbeelding, water wat plas, en krappe.
Benno kondig luidkeels aan dat hy ‘n krap gesien het. Die ander storm nader. Toe hy begin om te vertel dat die krap so groot soos ‘n bees was, besef ek dat hy besig is om met vreeslike gare ‘n reuse woordtolletjie te spin. Maar die ander geniet dit. Tussendeur begin ons aanstaltes maak om huis-toe te gaan. Maar die kinders wil bly. Vasgevang in hierdie oomblik van ewigheid. En vir die oomblik dink ek oor wat ons in die stad sou doen. Waarskynlik in die vervelende koue iewers na ‘n mall toe gegaan het. Iets gekoop het om die kinders mee besig te hou. Defnitief nie krapknypers nie. Mens kry dit nie in speelgoedwinkels nie. Ook nie die wind in jou hare en die reuk van rooigras nie. Mens se kinders kan nie met nat skoene en kouse slof nie. Jy sal vreemd aangekyk word. En tog, hier, in hierdie oomblik weet ek dat mens nooit die werklike daarwees van die natuur kan koop nie. Dis ‘n kersgeskenk wat elke dag wag om geneem te word. En tog, soos mens ouer word vergeet mens soms, soms verloor mens die kleurvolheid – soos die herfsbome wat van die heldergeel gestroop word deur die gang van die seisoene.
Terwyl ons huis-toe stap voel ek die gras weer teen my bene, ek ruik die modderige reuk van die spruit en hoor die wind wat die wilgerblare laat woesj sê. By die huis het Arné warm koffie gemaak. Die kinders hardloop na haar met die krapknypers. En ek voel weer soos ‘n kind toe ek met die warm, stomende koffie in my hand sit en vir Arné vertel van die krap wat ek gesien het.
“So groot soos ‘n bees…”



