Sowaar, sowaar – mens kan nie glo hoe die tyd verbygaan nie. EN daar is soveel lekker dinge om te doen, soveel avonture!
Vir eers was daar laas naweek die fotosafari met Hendrik Crafford se span in Clarens. Daarna die motor wat ingegee het in Bethlehem – en dankie tog die ignition het toe nie R10 000 gekos soos aanvanklik beraam is nie – was dit dalk bloot geluk dat ‘n werktuigkundige op verlof my kon kom help? Dalk meer gebede. Dit het wel beteken dat Arne en die kinders moes terugdraai Bloem toe en weer die geleentheid plaas toe saam met die Van Leeuwens meemaak. Ons het ‘n besonderse rustige naweek gehad, met Benno wat die spruit geniet het, en Anienie wat alleen en saam met Amore die plaaspad aangedurf het.
Maandag en Dinsdag was Oom Faan en Tannie Rie hier. Hulle trek Kaap toe, en het die lang reis in skofte onderneem. Hulle kon darem met ma-Barbara kuier, terwyl ons vir werk voorberei het. Ek was gou Dinsdagaand by die kamerkaklub, om Scott Kelby se Photowalk aan te kondig.
Woensdag was Jay hier. Donderdag was ek op verlof die oggend om in Kroonstad vir Pannar ‘n aanbieding te doen. Vrydagaand het ek die Cheetah Griekwa wedstryd gaan kyk om ‘n artikel vir PASSI te doen. Gisteroggend het ek en Arne na Elsabe Aldrich gaan luister en ek het die foto’s geneem. Tussendeur poog ek om die FUTURE aanbieding reg te kry vir Hennie Bouwer se sessie in die Drakensberge.
Die kinders is ook bedrywig met Benno wat Dinsdae skaak speel, en allerhande buitemuurs by die skool het.
Vanoggend was ons gou kerk toe, en ja, nou is dit Sondagmiddag – wil gou bietjie gaan rus voordat ek vir Charlie gaan kyk na die vergelyking tussen Kite Runner en Life is Beautiful…


