Tot op Bethlehem

December 4, 2009

Vanoggend is ons vroeg-vroeg op.  Ek was al vanaf 05:00 wakker, en het lees-lees-pak-pak begin om die gesin wakker te frustreer.  Toe Anienie om 06:30 opstaan wou sy dadelik eers gaan swem, en daarna strand toe – “Vir die laaste groet.”  Ons het nog seewater vir Griet gaan inpak, en daarna die vrag begin afdra na die motor.

Alles pas boomskraap, en daar is net-net genoeg plek vir Skoonma se krukke wat dwarsoor alles gedrapeer word.  Die rit het begin met mistigheid (lees 60 km/h) tot by Pietermaritzburg.  Daarvandaan het ons die nuwe “adapter” getoets, en Arne en die kinders het tot digby Bethlehem na Hannah Montana gekyk.  Ek dink Arne het boudkrampe weens die beperkte ruimte, maar ons het darem Bethlehem gehaal, vanwaar ek nou skryf.  Natuurlik het Suster Lut vir ons almal pizza gereed gehad “on arrival.”  Arne dink ons besef nie wat ‘n wonderlike sussie ons het nie, maar ek dink ons weet darem.  Ook dat my vrou wonderlik is – om so op die agterste sitplek uit te hou :-)

Ons gaan seker more of oormore terug Bloemfontein toe.  Die kinders speel rekenaar, en buite is onweer besig om op te steek.  Lyk my ons het die reen van Natal af saamgebring!  O ja, nog nie foto’s geneem nie, die kamerasak is nog onaangeraak – sal maar sien of ek die naweek ‘n paar kan neem.


Somervakansie by die see!

December 3, 2009

So loop ons vankansie van die afgelope week ook more ten einde.  Ons het Sondag by Natalia arriveer (Ouma ook in die motor, net ingeval iemand dink ons het haar versaak en verlaat :-) )

Ek dink ons het een dag amper die son gesien, maar danksy die warm swembad het die kinders darem heelwat geswem.  Ek dink hulle en Arne het gister ‘n nuwe rekord vir lank-in-die-swembad-wees opgestel.  (Met reen wat af en toe oor hulle geval het.)

Vandag het ons “Cloudy with Meatballs” by die IMAX gaan kyk.  Benno was eers nie baie lus nie, maar het gegaan.  Skoonma het vir die tweede keer die week met een kruk aan die een kant, en ‘n menslike kruk aan die ander kant die inkopiesentrums trotseer.  Ek dink die seaview met donker wolke oor kan ook te veel (of dan te min) raak.

Ons het vanaand gou vir Violet gaan seewater haal, en Benno het nog ‘n laaste “Stunt” in die water gaan doen deur krappe met sand te gooi.  Anienie is weer bekommerd (Hipochondria) dat sy allerhande siektes onder lede het.  :-) .

Vir die week sover het ek nog nie foto’s geneem nie, het ook bewustelik besluit om bietjie minder met die kamera te dwaal, en die kop te laat rus.  O ja, ons het ook die gesin se kersgeskenk, ‘n WII Fit en toebehore gekoop!  Sal dan net kleiner geskenkies bykoop.

In die nuus die week was hoofopskrifte oor die dood van Chris Louw (Boetman) wat aan soveel Blanke Afrikaanse mans van my generasie die stem was wat ons wou laat hoor.  Ook uiteindelik hard teen misdaad “geskryf,” en toe net nie meer kans gesien nie, en homself met ‘n AK47 geskiet.  Demmit.  Ons het sy kaliber mens so nodig in ons ou landjie wat so tussen afgrond en vaste grond huiwer.

Nou ja, gesels later…


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.